Lees u e-pos hier (CitrusNet kliente)
 
CitrusNet Internet Diens Verskaffer
Skakel nou in by jou plaaslike Internet Diens Verskaffer en ontvang tegniese diens plaaslik.
   

Waar die Sondagsrivier vallei 200 jaar gelede die toneel was van bloedige grens-oorloë tussen al die etniese groepe van Suid-Afrika en 'n eeu gelede nog hewige gevegte tussen Boer en Brit beleef het , vorm dit vandag die prentjiesmooie sitrusspens van die Ooskaap met Kirkwood as hoofdorp .

Die Sondagsrivier is die vinnigsvloeiende rivier in die land . Dit ontspring aan die voete van die Kompasberg by Nieu- Bethesda (een van die hoogste berge in die ou Kaapprovinsie) en loop 250 km. verder in die see in by Algoabaai . Nadat die rivier 'n pad deur die Suurberge gebaan het , vloei dit verby Kirkwood in die vrugbare Sondagsrivier vallei . Kirkwood is 80 km. vanaf die see geleë , maar slegs 100 meter bo seevlak en die hoogste temperatuur in S.A. is hier amptelik deur die Weerburo in 1928 op 50,3 grade Celsius aangeteken . Die Sondagsrivier vallei het dus 'n warm subtropiese klimaat wat ideaal vir die verbouing van sitrusvrugte is .

Die Sondagsrivier was rondom 1800 die oosgrens van die Kaapkolonie en is een van die min plekke in Suid-Afrika waar al die etniese groepe van ons land teen mekaar oorlog gemaak het . Khoi teen Xhosa , Khoi en Xhosa teen Boer en Brit en uiteindelik Boer teen Brit . Vir mekaar , oor mekaar en teen mekaar op verskillende periodes van ons geskiedenis . Gedurende die Anglo-Boere-Oorlog het Genl. Smuts en sy kommando van 250 man hier verbygetrek as deel van hul epiese tog na die noordweste . Die drie burgers wat die verste suid gedurende die oorlog gesneuwel
het , is hier op die plaas Brakkefontein van Cecil John Rhodes , doodgeskiet . Arri van Onselen en Henri Rittenberg lê begrawe in die Kariega begraafplasie langs die teerpad na Jansenvile , terwyl Cornelius Vermaas op Uitenhage herbegrawe is . 'n Hewige veldslag het daarna op die ou Bedrogsfontein-pas plaasgevind .

In 1814 ken Goewerneur Cradock die eerste plase in die Sondagsrivier vallei toe aan die bevelvoerders van die suksesvolle burgerkommando's vir hul rol in die oorwinning gedurende die grens-oorlog van 1811-12 . Landdros Cuyler van Uitenhage kry Geelhoutboom (later Dunbrody) , komdt. Ignatius Muller kry Klaaskraal (net buite die huidige Kirkwood) en veldk. J.S. van Niekerk die plaas Gouwernements Belooning waarop Kirkwood bykans honderd jaar later sou ontstaan .

Gedurende 1877 kom 'n afslaer van Port Elizabeth , James Somers Kirkwood , hierheen om 'n vendusie van die plaas Gouwernements Belooning te hou . Die Sondagsrivier is egter in vloed en hy kan nie deurkom nie en klim op die Uitkyk koppie om oor die vallei te kyk . Hiervandaan sien hy toe 'n visioen van hoe die bosbegroeide vallei omtower kon word in lowergroen besproeiingslande en vrugteboorde , met selfs vragskuite op die rivier om boere se produkte na P.E. se hawe te vervoer .

Hyself koop kort hierna hierdie en ander omliggende plase, stig die Sundays River Land and Irrigation Co. , vestig die klein nedersetting Bayville en begin om op groot skaal besproeiingslande aan te lê . Ten spyte van 'n baie positiewe prospektus en hope publisiteit slaag hy nie daarin om aandele in hierdie grootse projek te verkoop nie ; dis die tyd van die groot stormloop na Kimberley se diamante en almal koop eerder aandele in diamantmaatskappye . Uiteindelik stort sy maatskappy in duie weens gebrek aan ondersteuning deur die publiek en Kirkwood word insolvent verklaar . Hy sterf in 1889 finansieël en geestelik gebroke .

James Somers Kirkwood was soos so baie ander pioniers sy tyd vooruit . Sy visie is uiteindelik in die volgende eeu bewaarheid met die ontwikkeling van die Sondagsrivier besproeiingskema en koms van Oranjerivierwater na die vallei . Sy naam leef voort in die dorp Kirkwood wat in 1912 op sy oorspronklike plaas Gouwernements Belooning aangelê is . Vandag vorm Kirkwood die middelpunt van een van die grootste sitrusstreke in Suid-Afrika met ongeveer 10,000 ha. onder sitrusbome . Van hierdie goue vrugte word jaarliks ongeveer 8 miljoen kartonne lemoene , suurlemoene , pomelo's en sagte sitrus na lande reg oor die wêreld uitgevoer . Kirkwood is die dinamiese hoofdorp van die Sondagsrivier Vallei Munisipaliteit wat plekke soos Paterson , Addo en Enon insluit met 'n inwonertal van omtrent 70,000 mense en is landwyd bekend vir sy sitrus , rose en jagplase .

Reg agter Kirkwood lê die pragtige Rietberg met die Uyepoort wat toegang verleen tot die Suurberge in die Groter Addo Nasionale Park . Vanaf die Uitkyk waar James Somers Kirkwood destyds sy visioen gehad het , kan mens die panoramiese uitsig oor Kirkwood se lemoenboorde geniet , enkele meters vèr van waar fossielsoekers deesdae versteende oorblyfsels van reuse dinosaurusse uithaal .

Geskryf deur: Mnr. Stef Delport

   
TUIS | AKKOMODASIE | NUUS | JONGMENSE | WILDSFEES | SOEK
   

Contact Details: Subscriptions - Telephone: 042 2300412 / 042 2301800 ( Annelise / Alan )
Accounts - Telephone: 042 2300412 e-mail: annelise@kirkwood.co.za ( Annelise )
Technical - Telephone: 042 2301800 / 0839582228 e-mail: alan@kirkwood.co.za ( Alan )
Copyright © 2002 Kirkwood.co.za